Danie Botha

bothaDANIE BOTHA

Danie Botha was van 1972 tot 2002 fiksie-redakteur by Tafelberg-Uitgewers en ook die stigter van die druknaam Homeros. Ná sy uittrede is hy steeds werksaam in die uitgewersbedryf as vryskutboekeredakteur. Tot Augustus 2006 was hy redakteur van Gay@Litnet. Hy is die skrywer Die Soft Rock Klub (kortverhale;1995), en verskeie verhale (ook vir kinders) is gebloemlees. Hy is die samesteller van twee publikasies oor die geskiedenis van Tafelberg-Uitgewers, Hulde aan JD [Pretorius] (1987) en In ons goeie boekies: skrywers en redakteurs oor Tafelberg-Uitgewers (1991). Van 1986 tot 2007 was hy toneelresensent van Die Burger; tans is hy dit nog vir die teaterwebruimte van die Masque-teater in Muizenberg en LitNet: Vermaak.. Sy jarelange navorsing oor die geskiedenis van die pioniers van die Afrikaanse beroepstoneel, onder andere by NALN, het beslag gekry in Voetligte en applous! wat in 2006 by Protea Boekhuis verskyn het. Tot 2013 was hy veertien jaar lanke mede-aanbieder van 'n kultuurprogram, "Kaapse Dagboek", by Fine Music Radio in Kaapstad. Sedert 1973 het hy voordragprogramme saamgestel en kortverhale van Langenhoven en Dalene Matthee verwerk vir RSG, en bydraes gelewer tot letterkundige programme. Met ’n lisensiaat in voordrag en drama van die Akademie vir Dramakuns in Kaapstad tree hy op in radiohoorspele; was hy huilende skurke in die Springbokradio-vervolgverhale. Was medestigter van die Akademiespelers, ’n toneelvereniging vir die studente van die genoemde dramaskool; in hulle teater Die Kamer het hy dikwels toneelgespeel. In 2011 ontvang hy ’n oorkonde van die ATKV vir sy bydrae tot die uitgewerswese, letterkunde en die radio. In Julie 2014 verskyn Die helder dae waarin hy kortverhale oor sy jeug op Worcester, artikels oor teaterlui, skrywers en uitgewers in Kaapstad, en godsdienstige rubrieke uit Kerkbode versamel. Dit vorm ’n outobiografie in die kleine.

Werke deur die outeur.