AGTERGROND
In 1977, terwyl Henna en haar man Stone juis op soek is na ’n stukkie grond waar hulle saam kan ontspan, weg van die stadsgeraas en mensegedrang, sterf Henna se ma en word ’n familieplaas onverwags en onbepland haar erfdeel. In pleks van die plaasidille wat Stone voorgehou het, word Henna nou gekonfronteer met die harde werklikheid van volskaalse boerdery en alles wat daarmee gepaard gaan: droogte, peste, plae, veesiektes, vrektes en vrees. Stone se pligte as “befaamde ginekoloog” hou hom immers besig in die stad – en dis Henna wat vrou-alleen stoetvee koop, hanslammers grootmaak, met plaasarbeiders onderhandel en ’n tuiste probeer skep uit ’n vervalle murasie.
Uit briewe aan haar jarelange vriendin Ida leer ken die leser ’n belese en berese “ek” wat skielik ’n totale ommeswaai in haar netjiese bestaan beleef. Só word die teks ook ’n boeiende karakterstudie oor ’n ouerwordende vrou wat stoei met haar komplekse familiegeskiedenis (haar ma was eksentriek en afwesig, haar pa het met sy kop in boeke geleef) en die onopgeloste geheime wat ná haar ma se dood op die lappe kom. Die Henna wat enersyds kan brande blus, kalwe versorg en vendusies bywoon openbaar haarself al skrywende as fyngevoelige, intellektuele en filosofiese “ek” wat vlymskerp kan spot met haar eie swakhede, maar ook pynlik akkurate waarnemings maak oor die wêreld waarin sy leef. Benewens interessante wetenswaardighede oor boerdery wat na vore kom, is dit ook ’n veelseggende teks wat betref rasverhoudings op plase, die rol en posisie van vroue in die gemeenskap, die ewige waarhede in die letterkunde en die mens se afhanklikheid van die natuur.
OOR DIE OUTEUR
Ná vele omswerwinge is Helene Olivier terug in Pretoria waar sy gebore en getoë is. Sy en haar oorlede man, Pierre, het deeltyds in feitlik al die provinsies geboer. Wat hulle altyd getref het, was die kleinboere se liefde vir die grond en hul onwrikbare geloof dat dit vorentoe beter sal gaan. Hulle het veel geleer, maar nie veel wyser aan die ander kant uitgekom nie. Wat sy vandag die meeste mis, is die wydsheid van die plaaslewe in teenstelling met die elektriese heinings wat stadsbewoners in hulle “kampongs” vasdruk.
ISBN | 9781485309710 |
---|---|
Outeur | Helene Olivier |
Dimensies | 137mm x 213mm |
Formaat | Sagteband |
Bladsye | 252 |
Verskyningsdatum | Augustus 2018 |
Uitgewer | Protea Boekhuis |