
AGTERGROND
Blouwillestories is ʼn keur uit Willem Theron se weeklikse rubrieke in Beeld, Die Burger en Volksblad die afgelope agt jaar en is geskryf in ’n humoristiese, tong-in-die-kies-trant. Dit handel hoofsaaklik oor die lewe in die Ou en Nuwe Suid-Afrika. Blouwillem vertel onder andere van sleepwabestuurstegnieke (of ’n tekort daaraan), snorkers in die Wildtuin, sonde met jou bure se honde en met jou honde se bure, bleskoppe en krullebolle, skooltake in die nuwe bedeling en treinry in die ou bedeling. Blouwillem se “skertse” sal geniet word deur mense van feitlik alle ouderdomme (die gesensorde verhale sal selfs die kinders vermaak) wat graag die humor in (soms ernstige) situasies raaksien en waardeer.
OOR DIE OUTEUR
Willem Theron (Blouwillem) is ʼn voorheen bevoordeelde, tans geseënde middeljarige wat omtrent oral in die land gebly het omdat sy pa ʼn polisieman was, alles beleef het omdat hy getroud is, drie kinders en nege honde help grootmaak het, ʼn gebuigde sleepwa besit en ʼn huisverband het wat jaarliks groter word. Hy was al assistentstoker op ʼn trein, spioen, skakelbeampte en bemarker. Hy skryf weekliks humoristiese rubrieke vir Beeld, Volksblad en Die Burger. Theron woon in Pretoria en is beskikbaar vir onderhoude.
SKU | 978-1-86919-154-2 |
---|---|
Skrywer | Willem Theron |
Illustrasies | N/A |
Vertaler | N/A |
Genre | N/A |
Dimensies | 213 x 137 mm |
Formaat | Sagteband |
Bladsye | 124 |
Publiseer Datum | April 2019 |
Uitgewer | Protea Boekhuis |