Elizabeth Catharina Redelinghuys is as die 5de van 6 kinders gebore op 19 September 1955. Haar pa was ‘n spoorwegamptenaar wat sy toevlug tot alkohol geneem het wanneer frustrasie en gevoelens van minderwaardigheid hom oorweldig het. Haar ma was ‘n kunstige tuisteskepper met hande wat vir niks verkeerd gestaan het nie.
Die skrywer vertel met nostalgie en humor van haar grootwordjare; van die hoender wat haar getjipte tand opgevreet het toe sy in die hoenderhok geval het; tot haar verleentheid oor hulle voertuie, ‘n wit Commer wat soos ‘n roomyskar gelyk het en ‘n groen Zephyr wat gelyk het soos iets wat in gesnyde gras gerol het en haar lewenslange sagte plek vir Tri-angs, die driewiele wat vir haar en haar suster soveel vreugde gebring het.
Dis ‘n verhaal van swaarkry, diskriminasie teen vrouwees in die destydse era en grootword as een van twee ongewensde laatlammers. Maar dis ook ‘n verhaal van deursettingsvermoë; familiegeskiedenis en uiteindelike sukses. Die skrywer se agtergrond as fotograaf, kultuurhistorikus en woordliefhebber gee aan haar die vermoë om die verlede deur middel van woordprentjies ‘n nuwe lewe te gee.
Daar kan weliswaar gevra word wie sy is en hoekom haar outobiografie leeswaardig is en my antwoord sal eenvoudig wees: want sy het ‘n storie om te vertel. En sy doen dit meesterlik. Aanbeveel vir liefhebbers van die genre en ook vir diegene wat al oor die volgende vraag gewonder het: ‘Skryf mens om goed dood te maak, of om dit lewend te hou ?’ (p. 103)
⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek