Resensie: Die seun wat saam met drake lewe – Andy Shepherd

Die seun wat saam met drake lewe – Andy Shepherd

Hierdie is die tweede boek in ‘n trilogie wat afgeskop het met ‘Die seun wat drake kweek’. Nadat Tomas en sy vriende, Kat, Kai en Ted elkeen die trotse eienaar van ‘n baba-drakie geword het aan die einde van boek 1, hervat hulle avonture vervleg met die van die drakies: Flikker, Vrieska, Sluiper en Son. Maar dis moeilik om die geheim van hulle drake te bewaar as die eksotiese troeteldiere nie juis wil saamwerk nie; brandplekke op hulle klere, ontploffende draakbollie, diefstal van kos en totale chaos wanneer hulle aan die speel raak, word ‘n toenemende uitdaging om weg te steek en te verduidelik. Dan is daar boonop Liam, die boelie, wat op hulle spioeneer, Brommer, die kwaai buurman, wat met iets geheimsinnig doenig is en die draakvrugboom wat onverklaarbaar begin agteruitgaan.

Soos wat die geval was met die eerste boek, is hierdie allerprettigste leesstof vir jong lesers; plek-plek skreeusnaaks met heelwat spannende oomblikke en treffend geïllustreer deur Sara Ogilvie. Die skrywer is ‘n bekende kinderboek-outeur in Engeland en die Afrikaanse vertaling is deur Kobus Geldenhuys.

#uitdieperdsebek
#uitdievulsebek

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *