Resensie: Die seun wat saam met drake vlieg – Andy Shepherd

Die seun wat saam met drake vlieg – Andy Shepherd

Hierdie is die finale boek in ‘n trilogie wat afgeskop het met ‘Die seun wat drake kweek’ en gevolg was deur ‘Die seun wat saam met drake lewe’. In die slotaflewering van Tomas en sy vriende se avonture met hulle drake, word Tomas met verskeie uitdagings gekonfronteer: sy geliefde oupa is nie gesond nie en Tomas is pynlik bewus van ‘n baie moeilike belofte aan sy oupa wat hy moet nakom; ernstige konflik ontstaan tussen hom en sy beste vriende, Kat, Kai en Ted; sy verhouding met die boelie, Liam, word tot ‘n punt gedryf; Tomas word tot selfondersoek gedwing en sy drakie, Flikker, begin kwyn. Die enigste manier om al hierdie probleme op te los, is om die geheim van die draakvrugboom te ontrafel, voordat dit te laat is.

Alhoewel hierdie boek, soos sy twee voorgangers, ongetwyfeld prettige leesstof vir jong lesers is, is daar hierdie keer ‘n diepte ten opsigte van Tomas se emosionele ontwikkeling wat vir my besonder treffend was. Sy verhoudings met sy oupa en klein sussie, was veral aangrypend. Hy leer ken ook die waarde van vriendskap, aanvaarding en lojaliteit en ervaar die pynlike gevolge van oneerlikheid en selfsug. Die wonderlike illustrasies is weereens deur Sara Ogilvie en die Afrikaanse vertaling deur Kobus Geldenhuys.

#uitdieperdsebek
#uitdievulsebek

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *