Die Swart Kat slaan staal – Chris Sasner
Protea Boekhuis
Borrie Veldt het ‘n geheime alter ego: die misdaadbestrydende swart kat…… uitgevat in sy ouer suster, Rienie se (erm…geleende) swart broekiekouse; ‘n swart rolnektrui met die buitelyne van ‘n katgesig (wat hy self met wit gare daarop gewerk het); ‘n breë wapengordel (wat sy ma nie meer wil hê nie) en ‘n swart handdoek as mantel, maak hy saans jag op gevaarlike misdadigers. Hy los sy visitekaartjie by elke boef wat deur hom vasgetrap word, maar, helaas, sy pa, ‘n befaamde speurder, en ‘n jong kollega met ‘n oog op Rienie, Kobus Bril, kry elke keer die eer. Die wêreld is duidelik nog nie gereed om die Swart Kat se bestaan te erken nie, maar dit verhoed om glad nie om vreesloos sy belangrike take te verrig nie.
Ek het die Swart Kat meer as 40 jaar gelede tussen die bladsye van die destydse Patrystydskrif ontmoet. En ek onthou baie goed hoe ek soortgelyke drome van beroemdheid gehad het nadat ek sy avonture gelees het. In my verdediging: ek was 7 jaar oud ! Deur die jare is verskeie van sy avonture in boekformaat gepubliseer, maar teen daardie tyd het ek hom al effens ontgroei, so ek het dit nooit gelees nie. Hierdie bundel, die sede in laaste in die reeks, bevat nog drie van die Swart Kat se avonture: hy meet om die beurt kragte met geslepe juweeldiewe; ‘n fietsdiefstal sindikaat en geldvervalsers.
By die aanval van die lees hiervan, het ek twee vrae gehad: 1. Sou hy, na die jare, my steeds kon laat glimlag ? 2. Sal die Swart Kat uiteindelik die erkenning kry waarna hy so lank al smag ? Die eerste vraag is ‘n besliste ja. Die skrywer het by die veranderde tye aangepas wat die teks betref, maar Borrie Veldt is steeds ‘n lieflike mannetjie met ‘n baie sterk verbeelding. En die tweede vraag gaan ek nie beantwoord nie: lees maar self en vind uit.
Die skrywer is die skuilnaam van die skrywer, joernalis en uitgewer, Gert Basson – tans afgetree, maar ‘n voormalige redakteur van die einste Patrys, asook assistent-redakteur van Die Suidwester. As uitgewer was hy bestuurder van Perskorboekklubs, bestuurder-uitgewer van Juventas en Femina en hoofuitgewer by J.P. van der Walt. Die prettige illustrasies is deur Willem Samuel, ‘n bekende strokiesprentkunstenaar en die Swart Kat se avonture in geskik vir jong lesers van 8-12 jaar oud.
⭐️⭐️⭐️⭐️
#uitdieperdsebek
#uitdievulsebek