Bekkies se ding met die volstruis deur Gustaf Pienaar
Protea Boekhuis
Hierdie vermaaklike bundel bestaan uit 50 rubrieke wat die skrywer gedurende die tydperk 2016-2020 vir Die Burger se Saterdag-bylaag “Eiendomme” geskryf het. Moet egter vir geen oomblik dink dat dit tot eiendomme as onderwerp beperk gebly het nie; die skrywer se uiteenlopende belangstellings en beroepe – ‘n gewese SAUK-omroeper, skrywer en regspraktisyn met ‘n lewendige belangstelling in geskiedenis, motors, politiek, die natuur en die mensdom – sorg vir ‘n humoristiese en deernisvolle bundel met velerlei feitelike interessanthede.
Die titelverhaal skop af met ene Bekkies se Toyota wat ‘n geveg met ‘n volstruis verloor het en ‘n relevante daaropvolgende bespreking oor regseise waar skade deur diere veroorsaak is, dan volg ‘n mengelmoes van vertellings: sonde met die bure, vreemde versekeringseise, die katplaag op Marion-eiland, ballistiese raaisels ten opsigte van die Kennedy-sluipmoord, die grootmaak van ‘n hans-valkie, misleidende advertensies en die gevolge daarvan en, een van my gunstelinge, die 2011-arrestasie vir ‘n diefstal wat reeds in 1945 gerapporteer was.
Die bekende Fransjohan Pretorius sê die volgende van hierdie bundel: ‘Gustaf Pienaar se sin vir geskiedenis maak hom ‘n boeiende verteller’ – ‘n grootse kompliment en iets waarmee ek heelhartig saamstem. Die skrywer se vrou, Corlina, speel ‘n integrale rol in verskeie van sy vertellings en dit was vir my tragies om die redakteursnota, deur Joan-Mari Barendse, aan die einde van die voorwoord te lees: Corlina Pienaar is oorlede kort voor die publikasie van hierdie bundel en, op versoek van die skrywer, word die bundel aan haar opgedra.
In ‘n tyd waar ons almal kla dat ons dae te min ure het, is hierdie bundel die perfekte vinnige lees van enkele bladsye op ‘n slag. Dis beurtelings amusant, nostalgies, interessant en vermaaklik en word aanbeveel vir enigiemand wat insiggewende rubrieke geniet en waardeer.
#Uitdieperdsebek