Die Smooie en die Smoue – Julia Donaldson
Protea Boekhuis
Op ‘n verre planeet woon daar Smooie en Smoue. Smooie is rooi, slaap in beddens, speel graag in water, drink pienk melk en eet brood. Smoue is blou, slaap in gate wat hulle self gawe, speel graag op hulle heuwel, drink tee en eet groen bredie. Fleur, ‘n mooie jong Smooi, se oupa het haar nog altyd teen Smoue gewaarsku soos wat Fanie, ‘n knap jong Smou, se ouma hom nog altyd teen Smooie gewaarsku het. Maar eendag ontmoet Fleur en Fanie en begin skelm saam speel totdat hulle, jare later, besluit om te trou. Maar o wee, die familie…… Dit dwing Fleur en Fanie om ‘n plan te beraam om hulle families anders te oortuig.
Julia Donaldson se ‘Goorgomgaai’ en ‘Goorgomgaatjie’ is seker van die heel lieflikste moderne kinderboeke. Beide, asook hierdie een, se teks is in vrolike rymtaal en die volkleur illustrasies is deur Axel Scheffler. Die Afrikaanse vertaling is deur die alombeminde Jaco Jacobs en die boek is in ‘n pragtige groot hardeband formaat, perfek vir klein handjies van jong selflesers. Dis egter ewe geskik vir dramaties voorlees en prentjies wys vir die kleintjies en dra op ‘n speelse wyse die boodskap van ‘onbekend maak onbemind’ aan kinders oor. Volwassenes wat graag wil weet watter kleur ‘n rooi Smooi en ‘n blou Smou se baba is, kan gerus ook hierna loer.
⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
#uitdievulsebek
