Ronel Nel oorlede

RONEL NEL (27 Augustus 1964 – 27 Maart 2022)

Die veelsydige digter Ronel Nel (57) is Sondagaand 27 Maart 2022 in die intensiewesorgeenheid oorlede nadat sy drie dae lank teen ’n bakteriële infeksie en orgaanversaking baklei het. Die tweede keer in drie jaar was net te veel.

Ronel is in Pretoria gebore en het vanaf 1983 aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, eers vir ‘n BSc met chemie en rekenaarwetenskap, maar sy het in 1985 verander na joernalistiek. Nadat sy haar honneursgraad in joernalistiek verwerf het, het sy wyd gereis.

In 1993 verwerf sy ‘n Fulbright-beurs om vir ‘n meestersgraad in internasionale verhoudings en kommunikasie aan die Universiteit van Boston te studeer. Haar PhD-tesis oor “Die toekomstige impak van virtuele realiteit op kommunikasie en sosiale gedrag” is egter nooit voltooi nie weens gesondheidsprobleme.

Van 1999 tot 2005 was sy die bemarkings-en-mediabestuurder van die Aardklop-Kunstefees op Potchefstroom en lewer ook vryskutartikels vir Sarie, Beeld, Insig, Rapport, rooi rose, Taalgenoot, Swaubone, Getaway en Weg.

In haar veelsydige loopbaan was sy onder andere ook agent vir verskeie bekende Afrikaanse kunstenaars, vervaardiger van ’n televisieprogram in die Tsjeggiese Republiek, koördineerder vir die Pendoringkompetisie, beoordelaar en mentor by die Sanlam/LitNet-aanlynskryfskool, aanbieder op die ATKV-skryfskool op Potchefstroom en ook resensent van boeke en flieks.

Later sluit sy aan by die redaksie van rooi rose as kunste-en-boekeredakteur. In 2013 ontvang sy die ATKV-Woordveertjie vir diepte-joernalistiek vir haar artikel in rooi rose “Dagboek uit Denmar”.

Haar digbundel “[en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]” (Protea Boekhuis) is in 2003 op die kortlys van die Ingrid Jonkerprys. Haar gedigte word onder andere in “Karapaks”, “Ons Klyntji” en die “Groot Afrikaanse Verseboek” opgeneem. Sy het verskeie kinderboeke gepubliseer, asook ’n debuutroman, “Pelgrimshoop” (LAPA), wat in 2018 vir die ATKV-Woordveertjie as een van drie finaliste vir die beste roman benoem is. Twee opvolgboeke verskyn binnekort by Tafelberg Uitgewers.

Sy laat haar lewensmaat, die joernalis, skrywer en musikant Dirk Jordaan, na.

(Bron: Wikipedia)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *