Boekresensie – Die grootpad is ’n grondpad deur Daniël Lötter

Die grootpad is ’n grondpad deur Daniël Lötter
Protea Boekhuis

Ek het in 2020 met die skrywer se ’17 maal moord’ kennis gemaak en was onmiddellik beïndruk met sy sonderlinge vermoë om geskiedenis in heerlik leesbare stories te omskep. In 2021 het sy ‘Ware spookverhale van Suid-Afrika’ en ’14 maal moord’ my eweneens beïndruk – en met tye effens laat sidder. Toe ek dus onlangs uitvind dat bovermelde bundels eintlik uit ‘n voorafgaande, naamlik hierdie een, voortgespruit het, was dit ‘n maklike besluit: my spaarvarkie is flenters geslaan en my two-ply is vervang deur single-ply; ek moes dit eenvoudig aanskaf.

Die subtitel, “‘n Koffiekuier by Karoomense”, beskryf die bundel uitstekend; dis ‘n samestelling van kontreiverhale uit die Karoo deur ‘n Karookind van Fraserburg met ‘n belangstelling in kriminologie en kultuurgeskiedenis. Deel een, “Sit jou hoed op vir die son” is ‘n heerlike kombinasie van verhale en sluit in die stryd tussen Chev en Ford; Jack die bobbejaan, se loopbaan as sinjaalman; die Victoria-Wes vloed van 1871 en ‘n ongelooflike eksperiment met turksvy-brandstof. Deel twee, “Met tronkstewels en velkaros” vertel legendariese moordverhale van so ver terug as die Bloubaard van Gourits, gebore 1816, en die bisarre verhale van skoorstene as medepligtiges by moorde, in Oudthoorn (1884) en Richmond (1924). Deel drie “’n Ding met ‘n wit gewaad” is ‘n grieselrige versameling spookverhale uit die Karoo, waarvan my gunstelinge ongetwyfeld die van Prinsloo se kloof en die spookwa is. Laasgenoemde twee dele was duidelik die ontstaanbron vir die skrywer se latere publikasies.

Deel vier “Met hoed en handskoen” vertel die interessantste verhale van legendariese mense: onder andere Ou Meester wie se idee van katkisasie was dat ‘elke kind moes elke halte op elke sendingreis van Paulus uit die kop opsê’ (p.155); Tant Lenie Touers wat so graag gesofistikeerd en Engels wou klink, met amusante gevolge, verwysend na haar man Gert, ‘Ghirt! Ghirt! Come up the traps, I wants to saw you’ (p.160) en die formidabele Tant Sank Nortier, die NP se Klein Karoo-vuurvreter wat enigiemand wat durf staan het tydens ‘God save the king’ summier met ‘n skoen oor die kop gemoker het.

Deel vyf, ‘Onse mense’ deel staaltjies uit die lewens van Oom Giepie, Kallie, Liefie, Brian en ‘sant Dippie deur ‘n meester-storieverteller, aangebied in die eerste persoon narratief. Sommige insette moet liefs nie saam met koffie aangedurf word nie; verstikking as gevolg van onbeheerste giggelbuie is ‘n wesenlike gevaar. Hoogtepunte is ongetwyfeld die tannie wat tydens ‘n plaasdans op ‘n oliekol gly, terwyl die oom desperaat probeer keer: ‘Hy sien die genade het hom verlaat en hy spring om onder die antie uit te kom, want sy val nog steeds – en daar is ‘n klomp stuk mens wat afwaarts aan die kom is’ (p.192) en die doekpoeding wat ‘aan’t hol raak’ en ‘Maar ek hol die poeding in en ek vang hom en hy lyk vir my nog heel stewig – net ‘n paar blaartjies en stoffies.’ (p.202)

Die heel mooiste aanhaling is uit ‘Bamburger’: “’n mens moet na sy herkoms kyk om hom te verstaan. In elke man skuil immers nog die seuntjie wat hy was.” (p.182) Ek is erg opgewonde oor die skrywer se nuwe bundel ‘Dwars’ wat beloof om binnekort sy opwagting te maak. Vir almal wat gewonder het wat om vir my verjaarsdag te koop – die publikasie sal in die winter wees, nes my verjaarsdag. Ek sê maar net.

#Uitdieperdsebek

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *