Boekresensie: Die wandelende geraamte

Die wandelende geraamte en ander spookstories van C. J. Langenhoven – Wendy Maartens (samesteller) en Marjorie van Heerden (illustreerder)

Die agterplat van hierdie splinternuwe samestelling uit Protea Boekhuis se stal verklap ‘n pragtige agtergrondstorie: ‘Hierdie bundel het ontstaan na aanleiding van ‘n gesoute bibliotekaresse se vreugde oor kinders wat ‘n ou hardebandbundel met Langenhoven se spookstories uit die grootmensafdeling smokkel om in die kinderafdeling voos te lees……’ Dit het onmiddellik by my die vermoede laat bestaan dat die bundel waarna verwys word, deel drie van Langenhoven se versamelde werke (1933) is, want dis presies wat in my kinderdae ook gebeur het. ’Geeste op aarde’ en ‘Die wandelende geraamte’ was ‘n onweerstaanbare verbode vrug.

Dekades later, in 1983, is ‘n prag bundel getiteld ‘Leserskring se Langenhoven in volkleur’, deur Tafelberg gepubliseer. Die samesteller was Leon Rousseau en die meesterlike illustrasies was deur Angus McBride. Hierdie bundel was nie tot spookstories beperk nie, maar het wel ‘n afdeling met spookstories ingesluit. . Wat formaat en illustrasies betref, was dit ongetwyfeld meer geskik vir ‘n jonger generasie lesers as die oorspronklike publikasie, maar die taalgebruik van die 1933-weergawe is grootliks behou.

Een van my gunsteling boeke op my rak, het 1n 1992 die lig gesien: ‘Die beste spookstories van C. J. Langenhoven’ in hardeband, ook deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Hierdie keer was die samesteller Danie Botha en die illustrasies was weer deur Angus McBride. Die 1933-teks was weereens grootliks behou, maar kinders te jonk vir die ‘grootmensafdeling’ kon nou ‘wettiglik’ hulle eie Langenhoven spookbundel bekom.

Wendy Maartens se 2022 samestelling is egter in ‘n heel nuwe gedaante; die teks is aangepas vir jonger lesers en die illustrasies, deur Marjorie van Heerden, is ligter en vroliker as die van McBride – wat hierdie bundel hoogs geskik vir jong kinders maak. Die vermelde teksveranderings het deurgaans die essensie en humor van Langenhoven se oorpronklike tekste behou, maar die taal is gemoderniseer en vereenvoudig, waar nodig.

Ter illustrasie, die slotparagraaf van die titelverhaal ‘Die wandelende geraamte’, lui as volg in die 1933-weergawe: ‘Ek wis ek sou die bene daar kry en ek hėt hulle daar gekry. Langes die ander broer s’n daar op die kerkhoffie het ek hulle begrawe, en van toe af het niemand ooit weer onraad hier op die plaas gemerk nie. Die rustelose was tot rus gekom; die tweeling was weer bymekaar.’ In die 1983- weergawe is daar slegs twee vernuwings: ‘Langes’ is deur ‘Langs’ vervang en ‘was tot rus gekom’ deur ‘het tot rus gekom’. Die 1992-uitgawe het die bewoording van die 1933-teks onveranderd behou. In Maartens se moderne weergawe lui die betrokke deel as volg: ‘En net soos ek gedink het, daar lê die geraamte. Ek maak die bene bymekaar en begrawe dit langs die ander broer in die kerkhof. Dit was ook die laaste sien van die wandelende geraamte. Sy voete, of is dit beentjies, het nooit weer gejeuk nie.’ (p.71)

Nog ‘n uitstekende toevoeging tot die 2022-publikasie is die insluiting van Lapa se ‘Wenke aan ouers en onderwysers’ wat in ‘Koerant in die klaskamer’ verskyn het en waardevolle wenke gee om hierdie tipe verhale op ‘n ouderdomstoepaslike wyse oor te dra.

Ek wil graag aansluit by die samesteller se slotwoorde in die voorwoord: ‘Ek, Kerneels, ėn sy spoke wat byna vergete was, wėėt die verhale sal vir ‘n nuwe generasie Langenhoven-lesers vreugde bring.’ (p.8 ) Ek weet dit ook, Wendy, baie dankie vir hierdie wonderlike bundel !

#Uitdieperdsebek
#uitdievulsebek

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *