Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag deur Julio Agrella – Uitgegee deur Protea Boekhuis
Wat ’n plesier was dit nie om ’n debuutroman van hierdie kaliber te lees! Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is goed deurdink en boei tot op die einde.
Die grootste vreugde lê in die skryfwerk en taalgebruik. Dis van die hoogste orde.
Privaat speurder Zeus gaan deur die lewe met dié naam uit die Griekse mitologie. Die mitologiese Zeus is die god van die hemelruim en van donder en word beskou as die heerser, beskermer en vader van alle gode en mense.
Zeus, die speurder in die misdaadroman, vra: “Wie noem hulle eniggebore kind Zeus?” Dit word gou duidelik dat sy naam ironies is. Hy is ’n geskeide ekspolisieman, sardonies en sinies. Hoewel Zeus hom dan en wan aan alkohol vergryp, kry hy sy speurwerk gedoen. Goed gedoen.
Op ’n dag stap die aantreklike Diana Engelbrecht sy eenvoudige kantoor in Springs binne. Zeus sê hy kén godinne. Diana gee hom opdrag om na die verdwene Esias Kok te soek. As kind het Esias albei sy ouers in ’n motorongeluk verloor. Dis net een van die tragedies wat hom bybly en vanselfsprekend sy psigiese gesondheid beïnvloed. Niemand skyn iets van Esias as volwassene te weet nie.
Zeus vertrek in sy ou Hardbody deur die land om die man met die baie geld en professionele houding te soek. Jy laat tog nie vir godin Diana in die steek nie!
Tydens sy omswerwinge ontmoet Zeus verskeie karakters; volrond geskets. Hul lewens word boonop vindingryk vervleg. Mens kan nie help om te wonder hoe lank dit Agrella geneem het om só ’n plot uit dink nie.
In teenstelling met die Griekse god is Zeus menslik. Hy dra self swaar aan ’n skokkende gebeurtenis, is ontnugter deur die liefde en loop ’n onwaarskynlike gelukkie in die vorm van (die warm!) Wanda Vercuiel raak. Vercuiel was destyds Esias Kok se sielkundige, stel Zeus vas. Dit bly egter Diana wat sy gedagtes beset.
Die gebeure verloop nie chronologies nie. Dit verhoog die spanning. Zeus is die verteller, maar die terugflitshoofstukke word uit ander karakters se perspektiewe vertel. Baie van dié feite is onbekend aan Zeus.
Die roman ondersoek kwessies soos seksuele misbruik, geweld en magsmisbruik. Dit kom in alle lae van die samelewing voor, besef mens net weer. Dié resensent verswyg nóg ’n belangrike vraagstuk. Die ontknoping behoort immers nie vooraf verklap te word nie.
Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is nie ’n swaarwigtige roman nie. Die humor vermaak en as jy ’n filosofieliefhebber is, sal jy genoeg stof tot nadenke hê. Jy kan ook die verhaal bloot vir die spanningselement geniet.
Dié toeganklike roman ontknoop so verrassend dat sommige lesers waarskynlik gelawe sal moet word.
’n Goeie resensie behoort nie net gloeiend te wees nie, maar dié resensent het werklik geen besware nie. Zeus van Wyngaard en die godin van die jag is eerder ’n leeservaring waarvoor jy tyd in jou kalender sal móét maak. Dis dêm goed.
Riette Rust