Dwars – rare karakters onder ons – Daniël Lötter

Dwars – rare karakters onder ons – Daniël Lötter
Protea Boekhuis

Daniël Lötter is sedert die publikasie van verskeie bundels (‘Die grootpad is ‘n grondpad’; ’17 maal moord’; ‘Ware spookverhale van Suid-Afrika’ en ’14 maal moord’) al bykans ‘n huishoudelike naam in die moderne Afrikaanse vertelkuns. In sy nuutste bundel, ‘Dwars’, deel hy die verhale van ‘n paar ongewone dwarstrekkers, nonkonformiste en randeiers wat almal ‘n sterk Suid-Afrikaanse konneksie het.

Op ‘n spitsvondige wyse en in ‘n gesellige verteltrant waartydens mens jou amper kan verbeel jy sit na kampvuur stories deur ‘n meester verteller en luister, vertel hy van skinderbekke aan die Kaap in die laat 1600’s wie se los tonge tot hul verbanning na Robben- en Dasseneiland gelei het; berugte kwaai vrouens uit vervloë dae wat ‘n predikant met ‘n stoel oor die kop geslaan en hom onder die klippe gesteek het; gedreig het om ‘n landdros se keel af te sny, en Britse ammunisiewaens in die konsentrasiekamp vir brandhout opgekap het; ‘n legendariese veedief met ‘n goeie hart uit die 1890’s wat die polisie radeloos gehad het (‘Die konstabel praat tale wat die geilste gannabos kan laat verlep… – 43); Elizabeth Klarer wat in 1980 beweer het dat sy deur ‘n ruimtetuig na die planeet Meton geneem het waar sy die lewe aan ‘n seun, Ayling, geskenk het na ‘n verhouding met ‘n ruimtewese genaamd Akon; die ongelooflike geskiedenis van Pagel se sirkus; die Suid-Afrikaanse ouma wat dalk ‘n nasaat van Nikolaas II was; die aartsskelm, Willem Goosen, wat deur geen tronk binnegehou kon word nie en selfs uit Pretoria-Sentraal; ‘n hospitaal; die Zonderwater-gevangenis en landdroskantore ontsnap het (hy het ook by ‘n landdroskantoor ingebreek om sy eie tas klere te steel !); Tant Sarah se blikwinkel op George; Happy Sindane, die Ndebele-seun wat geglo het dat hy as kind ontvoer was; James Barry, die eerste vroulike dokter wat 1816-1828 in Suid-Afrika werksaam was, en vele ander.

‘n Paar beskrywings het besondere leespret verskaf en verdien spesiale vermelding: skinder was bekend as ‘agterklapperij’ – ‘dis nou waar jy vriendelik en liefies met iemand staan en gesels, totdat die persoon omdraai – dan loop jy haar van agter af by met ‘n liederlike storie wat onder belofte van doodse geheimhouding agter die hande verder gefluister word.’ (7). ‘Huilebalken’ (213) was vrouens wat gehuur was om voor ‘n begrafnisstoet te loop en huil en ‘tropsluiters’ was insgelyks gehuur om agter te loop om die stoet langer te maak, maar ‘weens die bygeloof dat die laaste in die stoet by die eindpunt die volgende sou wees om te sterf, is enige deftige stoet nogal ontwrig deur ‘n onwaardige maar traanvolle gestamp en gestoot in die agterhoede.’ (214)

Daar was voorheen pogings om legendariese Suid-Afrikaanse karakters in boekvorm vir die nageslag te bewaar; ek dink veral aan Johann J. van der Post se reeks oor ware moordverhale in die 1940’s en Chris Vermaak se ‘Loon van die sonde’ (ware misdaadverhale) in die 1970’s, maar in beide gevalle was die aanbieding in formele taal, analoog aan emosielose beriggewing. Daniël Lötter se aanslag verskil hemelsbreed; sy vertellinge herinner aan die klassieke Koöperasiestories se agter die hand gefluister en mens kan jou amper verbeel dat jy Mietjie se ‘Haai mens!’ tussenin hoor terwyl jy lees.

‘Dwars’ word sterk aanbeveel vir liefhebbers van kontreiverhale; volkslegendes en staaltjies oor eksentrieke karakters. Ek voorspel dat hierdie bundel – en sy voorgangers – versamelstukke gaan word waaroor erfgename gaan vuis slaan. Dit verdien ‘n ere-plek op elke Afrikaanse rak.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *