Tien voor een – Adele Vorster
Protea Boekhuis
‘Kos is my lover… Vir meer as dertig jaar is kos al my daaglikse drug.’ (21)
Tien voor een. Die magiese tyd vir staatsamptenare. Amper lunch, pak op. Nee jammer, Meneer, ons is nou toe, kom weer terug na lunch, nè ? Vir mense op dieet is dit ewe belangrik: na die oggend se swart tee kan ons weer ietsie eet. Al is dit ‘n slaaiblaar. Dan is daar nog ‘n groep mense – mense wat ons voorgee ons glad nie verstaan of eers van weet nie – wat se lewens om kos wentel; wat heeldag daaraan dink; vir wie tien voor een ‘n tyd is wat jy wettig honger mag wees; vry om te mag eet – want almal eet mos nou – sonder skuldgevoelens. Welkom in die lewe van ‘n kosverslaafde.
Reeds in die openingsdeel wonder die skrywer waarom mense die boek sou koop en lees: dalk ‘n oorgewig persoon wat beter oor hom/haarself sou voel omdat die skrywer vetter is; iemand wat hoop om raad te kry oor diëte; ‘n rubber necker met ‘n morbiede belangstelling in iemand wat ‘n hele melktert met ‘n teelepel verorber; ‘n opregte empaat wat begrip wil kweek vir die psige van ‘n kosslaaf ? Ek kan nie namens ander antwoord nie; bloot my eie rede verskaf – en dis belangrik dat ek dit doen, want dis relevant tot hierdie resensie se perspektief.
Dus: ek het hierdie boek gekoop. Dis nie ‘n resensie-eksemplaar nie. Hoekom ? Want ek het my eie stryd met eetversteurings en die donkerbosverdwaal gehad. Dis dekades gelede, maar mens dra dit met jou saam; the body keeps the score. Jy onthou tot in die diepste van jou wese en dit maak ware objektiwiteit onmoontlik. Wat ek verder gaan skryf, is dus onvermydelik my persoonlike ervaring van die boek. As jy daarom verkies om nie verder te lees nie, is dit nou die tyd om te stop.
Vir diegene wat nog hier is: hier gaan ons !
Dis miskien bloot ‘n akademiese argument, maar ek wil dit tog sê: dis nie ‘n roman nie; dis eerder ‘n memoir. Dis baie meer as ‘n fiktiewe prosa narratief; dis ‘n historiese en teenswoordige vertelling met persoonlike kennis van ‘n gefragmenteerde lewe; van kindertrauma; vrees; obsessies en verlies. Die agterplat beskryf dit die beste: ‘Tien voor een is ‘n minnebrief aan kos; maar ook ‘n gebroke liefdesverhaal, die verslag van gesteelde kinderjare en ‘n kreet van bestaansangs…’ Ja, daar is humoristiese oomblikke, maar nie die soort wat jou aan jou muffin laat verstik nie (ek sal nou verduidelik hoekom dit nou juis ‘n muffin is); eerder die ‘tragic clown’ tipe humor – die gesig waarop ‘n breë rooi glimlag én ‘n traan geverf is.
Terug na die muffin. Die formaat van die aanbieding skep die bedrieglik eenvoudige indruk dat die skrywer op haar balkon sit en wag vir Johnny van Mr D om haar muffin-bestelling met sy scooter af te lewer en dat sy, terwyl sy wag, so half tyd verwylend en terloops, vir die leser haar lewensverhaal vertel. Tussen deur loer sy kort-kort na die app om te kyk waar die muffins draai en op die laaste bladsy het sy steeds nie haar muffins nie. (Spoiler – sorry !)
Die leser volg die muffin-krummelspoor van Adele tot Odela Luna; ontmoet ‘n dapper motvanger; kry ‘n kykie in hospitaalopnames; sessies met sielkundiges; deel ‘n verlange na ‘n geliefde Oupa; lees jeugdige joernaalinskrywings en wag op die dêm scooter wat nie opdaag nie. (As die Engels jou frustreer, moet dan ook nie die boek lees nie. Dis hoe dit is !)
Die twee mees hartverskeurende krummelspore is ongetwyfeld die aanloop en afloop van die verhouding met ‘n geliefde wat deur middel van sms’e en e-posse in die teks gevleg is (‘Ek het die reg verloor om jou Liefie en Nana te noem. Ek het so baie verloor.’ – 113) en die ambivalente pa-dogter verhouding. Op bladsy 75 (gedateer 14/6/1997); ‘Pa, kan ek vir jou ‘n gedig skryf?’ en op bladsy 130 (gedateer 20/5/2003): ‘Pappa. My hart huil vir jou…’
Op 26/4/2022, kort voor die boek se vrystelling, verskyn die volgende op die skrywer se Facebookblad: ‘…my boek waaraan ek in ‘n sekere sin al my lewe lank skryf.’ Dis ook my ervaring tydens die lees daarvan. Daar is brutale eerlikheid (‘Ek gee nou nie meer die R2 vir honger kinders by KFC nie, ek spaar dit vir my Coke. Ja, ek weet dis vieslik, ek weet. En gross en walglik – die vet vrou wat nie R2 kan afstaan vir honger, uitgeteerde kinders nie en genoeg vreet om al ses van Mr D se kinders te voer.’ – 8,9); melankolie (‘Al wat ek ten slotte kan sê, is om Amanda aan te haal: “Die wêreld is my woning nie, Totius sou verstaan. Ek reis al meer na binne tot dit tyd word om te gaan.” – 34) en lewensinsig (‘Dapperheid is wanneer jy woorde op ‘n skerm tik terwyl jy nie weet of jy kans sien om deur die nag te kom nie.’ – 170)
Lesers wat hoop op ‘n tradisionele happy ending waar die heldin mooi maer en gelukkig getroud opeindig, gaan teleurgesteld wees. Maar dis nie hooploos nie, inteendeel; dit getuig van die realiteit dat ‘n vierkantige lewe wel in ‘n ronde wêreld kan inpas; dat elkeen se plekke in die son verskil en dat dit soms okay is om bloot te oorleef: ‘My lewensverhaal is egter nie een wat hopeloos eindig nie. Dis eerder een wat gaan oor ‘n late bloomer…’ – 198)
As ek die boek moes saamvat, sou ek dit ten beste kon doen in die woorde van NP van Wyk Louw: ‘Ek haat en ek het lief…Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat. Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.’
Die bevoorregtes wie se meetsnoere nog altyd in lieflike plekke geval en daar gebly het, sal waarskynlik min aanklank by die boek vind. Diegene wat kan identifiseer met James Baldwin se woorde (aan Life Magazine in 1963): ‘You think your pain and your heartbreak are unprecedented in the history of the world, but then you read’ sal egter die skrywer se besondere vermoë om intense emosie te verwoord in hierdie aangrypende memoir waardeer.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#uitdieperdsebek
Waar bestel ek die boek?
Die boek kan by u plaaslike boekwinkel of aanlyn gekoop word. Hier is ‘n skakel om Tien voor een deur Adele Vorster op die Protea Boekwinkel webwerf te koop: https://proteabooks.com/index.php/tien-voor-een.html
Prys van hierdie boek asb
Die boek se prys is R325.00. Lekker dag verder!
The nice answer!