Terugblik 2 – Fransjohan Pretorius
‘Die geskiedenis is mos soos ‘n klip wat ‘n mens in ‘n plaasdam gooi – dit maak rimpelings wat uitkring, en ná ‘n rukkie is daar niks. Tensy jy weer ‘n klip ingooi. Vir die onthou.’ (39)
Die skrywer, ‘n professor emeritus van die Departement Historiese en Erfenisstudies aan die Universiteit van Pretoria, het tot relatief onlangs rubrieke in die dagblad ‘Beeld’ geskryf oor die geskiedenis van Suid-Afrika van die vroegste tye tot die hedendaagse. Tagtig daarvan is opgeneem in die bundel ‘Terugblik’ (2020) en hierdie opvolgbundel bestaan uit ‘n verdere tagtig, almal ongeveer vyf honderd woorde in lengte, foto’s (sommige ontleen uit eksklusiewe privaat versamelings) en ‘n indrukwekkende lys van bibliografie vir diegene wat wyer wil lees.
Die groot vreugde van die bundel word tereg as volg deur Pierre Edwards in die voorwoord opgesom: ‘Fransjohan het geen erg aan ingewikkelde skryfwerk waar sinne weer en weer gelees moet word om te begrip wat hy bedoel nie…’ (9) Dis in ‘n ligte verteltrant geskryf en is deurspek met fyn humor, wat dit besonder toeganklik vir enige leser maak.
Die nege afdelings begin so ver terug soos Bartlomeu Dias se vaart om die Suidpunt van Afrika (1487) en reik tot by ‘n legendariese rit saam met Supervan, Sarel van der Merwe. Benewens bekende geskiedkundige gebeure, is daar velerlei interessanthede: die ware oorsprong van bobotie (19); die Antjie Somers-legende (25); die Matabeles se gebruik van vegsbeeste met skerpgemaakte horings tydens die slag van Kapain (48); die geskiedenis van die piekniek – volgens P.W. Grobbelaar die voorganger van die ‘braai’ (77); Johs Venter se bome- monument (159) en T. O. Honiball se Jakkals en Wolf-strokiereeks (247).
Interessanthede tydens die Anglo-Boereoorlog sluit in: oorlogskorrespondente, die gebruik van lugballonne, boereaanvalle op Britse skepe, militêre attachés en swart konsentrasiekampe waarin, volgens Stowell Kessler, meer as 21 000 mense gesterf het. Ek het die hoofstuk (26) oor plaasname in die ZAR baie geniet en wonder nogal oor die stories agter name soos ‘Hoeraroep’ (Lydenburg); ‘Kiss me Quick’ (Waterberg); ‘Drievrouw’ (Wakkerstroom); ‘Hoek van Hell’ (Zoutpansberg) en ‘Bliksem’ (Middelburg). In die skrywer se eie woorde: ‘Ons sal nie duskant die sipresse al die antwoorde hê nie.’ (127)
Die skepping en gebruik van die woord ‘oralsman’ – ‘n persoon wat die vermoë het om orals op te duik waar dit saak maak’ (191) was vir my nogal vermaaklik, maar die beoordeling van historiese figure in die algemeen, nie net ‘oralsmanne’ nie, word wel met die volgende voorbehoud geplaas: ‘Beoordeel ‘n figuur in sy tyd. Moenie van daardie persoon verwag om vandag se insigte te huldig nie.’ (245)
Sommige staaltjies het my hardop laat lag. Uit die Anglo-Boereoorlog: ‘Van wagwoorde het die Boere weinig begrip gehad. Op ‘n keer het ‘n brandwag ‘n burger van ‘n ander kommando wat nie die wagwoord geken het nie gedreig: ‘As jy nie sê “kanon” nie, kom jy nie hier verby nie!’ (139) En, uit die skrywer se eie ervaring met ‘n ietwat hardhorende bron, ‘Sy skoondogter… staan as tussenganger agter hom. Wanneer ek ‘n vraag vra, herhaal sy dit skreeuend by sy ore. Sodra hy die vraag verstaan, reageer hy met vlamme en met dieselfde aantal desibels.’ (198)
Hierdie bundel kan in die woorde van ‘n aanhaling uit Hoofstuk 58 (‘Boeke is kosbaar’) saamgevat word: ‘Boeke eis die hoogste respek van ons, en verdien dit.’ (195) Lesers wat Daniël Lötter se vertellings geniet het, sal beslis ook sterk aanklank by hierdie bundel vind.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
