Boekresensie: Die avonture van Iwan – Otfried Preussler

Die avonture van Iwan – Otfried Preussler
Protea Boekhuis

Iwan is bekend vir sy luiheid. Sy twee ouer flukse broers moet al sy werk doen en, as hulle dit waag om daaroor te brom, vlieg die huishoudster, Tante Akulina, hulle in. Sy glo vas dat lui Iwan vir groot dinge bestem is. Op ‘n dag ontmoet lui Iwan ‘n geheimsinnige blinde man wat voorspel dat hy die volgende tsaar sal word – mits hy sewe jaar op ‘n bakoond deurbring, net sonneblomsade eet, niks doen nie en met niemand praat nie. Konsternasie ! Nie eers sy broers se dreigemente om die huis bokant sy kop af te brand, kan Iwan oorreed om van die oond af te klim nie.

Na die verstryking van die sewe jaar vertrek Iwan op ‘n tog wat hom tot die uiterste sal toets: hy ontmoet die groen woudmonster, die bose Og, wat elke jaar verwoesting saai; Batur, die allervreeslikste rower in die hele land; Baba Jaga, die moerasheks wat perde steel en op ‘n gewelddadige bakoond rond ry; die reusagtige steenridder, Draakseun wat jongmanne van die omgewing in ‘n klipkelder gevange hou en, uiteindelik, die geslepe Groothertog Dimitrij wat self die volgende tsaar wil word en nie sal huiwer om enige teenstander uit die weg te ruim nie.

Tipies van Europese sprokies, verkry Iwan wyse raad met elke goeie daad wat hy verrig en spesiale wapens met elke oorwinning wat hy behaal – wat hom dus volledig toerus vir die finale geveg. Die styl herinner sterk aan die geliefde sprokies van die Grimm-broers en geen wonder nie, die skrywer was self een van die bekendste en suksesvolste Duitse kinderboekskrywers met wêreldwye verkope van meer as 50 miljoen eksemplare en titels wat in 55 tale vertaal is. Hy is ongelukkig in 2013 oorlede, maar sy werk word ver buite Duitsland as klassiek en tydloos geag en is ook in Afrikaans beskikbaar. Die eerste Afrikaanse uitgawe was gepubliseer as ‘Die avonture van Wanja’ deur Hollandsch Afrikaansche Uitgevers Maatschappij ,1976 (vertaal deur Amelia de Vaal) en hierdie splinternuwe 2022-uitgawe maak die wonderlike verhaal opnuut beskikbaar vir ‘n nuwe geslag avontuurlustige jong lesers van 8 jaar en ouer.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *