Kodachrome deur Tom Dreyer
‘Kodachrome is the brand name for a color reversal film introduced by Eastman Kodak in 1935. It was one of the first successful color materials and was used for both cinematography and still photography.’ (Wikipedia)
Hierdie bundel van 90 flitsverhale, waarvan sommige voorheen in Die Burger, Weg en Taalgenoot verskyn het, se onderwerpe is so wyd soos die Namibiese vlaktes wat in verskeie bydraes figureer, maar die subtiele sentrale tema is daardie vinnige, soms terloopse, raaksien van iets buitengewoon; iets wat die saad van ‘n storie bevat. Die raaksien is blitsig en momenteel, net voordat die kamera se sluiter sy werk doen en die flits op die brein registreer. Die skrywer, reeds welbekend en bekroon vir beide sy skryf- en digkuns, openbaar hier sy besondere vermoë om nie net betowering in die alledaagse te kan sien nie, maar dit ook te kan verwoord.
Elke verhaal gebruik die eerste persoon narratief wat die waarnemings verpersoonlik en onwillekeurig wisselende emosies en reaksies by die leser ontketen. Ek het om die beurt geproes, hardop gelag, ‘n traan gepik, my kop in ongeloof geskud en, meer dikwels, stom na die pas geleesde bladsy gestaar en besef: geen woorde kan die emosie verwek deur dit wat ek nou net gelees het, saamvat nie. Ek was nostalgies saam met die skrywer se terugkyk op ritte saam met sy pa; het geskater vir die prentjie van die weghol-boot; my verwonder aan die verbeeldingsreis van ‘n vingerhoed; erg gegril vir die inhoud van Marie Antoinette se pruike; verlief geraak op dit wat ‘n geel bad-eendjie kan verteenwoordig; was bewoë oor die lot van die onbekende soldaat; het hardop gelag vir die amperse held van Naboomspruit; oopmond gelees van Napoleon se geveg teen die hase; gewonder wat van Herbie geword het; baie nagedink oor die Bloop; was met afgryse vervul oor die koning van Clipperton; het geween oor die ondergaan van die Vingerklip; het onbehoorlik hard gelag oor die onverwagte graf in Stikland; stom gestaan voor die verraderlikheid van ligte; het gewonder wat van Steve Austin geword het en weet nou uiteindelik hoekom potensiële vampiere met net een sokkie die ewigheid in gestuur word.
Die bundel is, in die skrywer se eie woorde: ‘Vir almal wat al ooit op ‘n kitsfoto geblaas het om dit vinniger te laat verskyn… Vir almal wat al onkant gevang is deur ‘n randverskynsel. Vir almal wat ooit wonder.’(5) Die flitse is perfekte woordprente; filmiese prosa; die soort publikasie wat mens met sagte hande hanteer en wat nog lank na die laaste toemaak, in jou hart voortleef.