Ongekende ellende: rampe wat Suid-Afrika geruk het by Chris Schoeman
Aug 08, 2022
#Protea
Alhoewel hierdie bundel (subtitel: ‘Rampe wat Suid-Afrika geruk het’) aansluitend is by sy voorganger ‘Nêrens veilig – Twee eeue van Suid-Afrikaanse rampe’ (2021) deur dieselfde skrywer, is dit geensins noodsaaklik om in ‘n bepaalde volgorde gelees te word nie. ‘Nêrens veilig’ is tydsgewys meer beperk, slegs twee eeue, terwyl ‘Ongekende ellende’ reeds in 1693 afskop met die Gouden Buys se tragiese vaart en stranding aan die Weskus en reik tot by die sokkerrampe van Orkney (1991) en Ellispark (2001).Soos in die geval van sy voorganger, is die bundel se teks uiters toeganklik en word aangevul deur eindnote, ‘n volledige bibliografie en verskeie bydraes uit foto-argiewe (tussen bladsye 128 en 129).Ek het die baie geniet om vergelykings tussen die twee bundels te tref; soortgelyke rampe word bespreek, maar die eerste bundel se fokus is op die meer bekende, terwyl die tweede die leser herinner, en soms voorstel, aan minder bekende, maar niks minder tragiese, gebeurtenisse. Waar ‘Nêrens veilig’ byvoorbeeld die Groot Griep (1918) bespreek, neem ‘Ongekende ellende’ die leser terug na die minder bekende pokke-epidemie (1713); en die Laingsburg-vloed (1981) in eersgenoemde bundel word vergelyk met die Victoria-Wes-vloed (1871) in laasgenoemde.Minder bekende tragedies wat ingesluit is, is die Malmesbury-tornado (1905) en die groot brand, wat met die meer onlangse Knysna-brande vergelyk word, in 1869. Die hoofstuk oor die runderpes was vir my besonder insiggewend; die desperate maatreëls om verspreiding te probeer bekamp, het sterk herinner aan die hedendaagse pandemie.Die hoofstuk naaste aan my hart, is egter ongetwyfeld die Blaauwkrantzbrug-treinongeluk van 1911. Die tragedie het hom afgespeel tussen Port Alfred en die destydse Grahamstad, nou Makhanda, wat reeds meer as drie dekades my tuisdorp is. Dis een van die heel eerste stories wat met ‘n nuwe intrekker gedeel word; niemand wat destyds betrokke was, leef meer nie, maar verskeie van hulle nakomelinge woon steeds in die omgewing en die ramp is steeds, meer as ‘n eeu later, deel van die omgewing se kollektiewe geheue.
Hierdie persoonlike ervaring van die nagevolge van ‘n ramp vind aansluiting by Willem Landman se woorde (Voorwoord, bladsy 6) oor waarom die geskiedenis altyd relevant sal wees: ‘Die geskiedenis het ons gevorm, gemaak wat ons is. Ek is niks sonder my geskiedenis nie. Ek dra dit saam met my in alles wat ek dink en verstaan, alles wat ek voel, alles wat ek doen. Ek is die produk van dit wat my vooraf gegaan het.’
Ander rampe wat ook ingesluit is, is die Suid- en Oos-Kaapse oorstromings (1905); die Groot Depressie (1929-1933); die Groot Droogte (1933); die De Havilland Comet-ramp (1954); die Henley-on-Klip-skoolbusramp (1970) en Die Merriespruit (modder) ramp (1994).
Die bundel word sterk aanbeveel vir almal wat sy voorganger geniet het; vir enigeen wat die belang van die verlede besef en waardeer en vir chronies nuuskieriges – soos ek.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
Protea Boekhuis
#Uitdieperdsebek
