Boekresensie: Moer toe die vreemde in deur C. Johan Bakkes

Moer toe die vreemde in deur C. Johan Bakkes
Protea Boekhuis

 

‘Jy stap na Moerland toe en terug
‘n pak herinnering op jou rug….’ (Hennie Aucamp)

Casparus Johannes (C. Johan) Bakkes het weinig bekendstelling nodig. Hy was weliswaar ‘n rekenmeester en professor in toegepaste rekenmeesterskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland voor sy aftrede (en is tans bereid om ‘uit ‘n koek te spring’ vir bemarking om sy pensioen aan te vul) maar hy is meer bekend as wêreldreisiger, toergids en skrywer van aweregse reisverhale, wat al verwar was met Moses, Jesus en ‘n sangoma: ‘Soos my ma sê: “Hy’s nou nie juis ‘n oil painting nie.” Ek was haar eerste poging – die ander drie het nie te sleg uitgekom nie.’ (17-18) en ‘Met die omblaai waag een monnik dit om so skuinsweg met die een oog op te kyk. Voor hom sien hy ‘n figuur uit die Bybel – ‘n woestaard met lang hare en baard, sewe kilogram koperarmbande, ‘n lang staf, ‘n wit rok en rooi bergklimsokkies.’ (20)

‘Moer toe die vreemde in’ is oorspronklik in 2001 gepubliseer. Hierdie 2022-weergawe is nie bloot ‘n herdruk nie; dis ‘n heruitgawe, ‘bygewerk en bygereis’; daar is ‘n terugblik in die voorwoord (‘n Agtergrondstorie: ‘Gewoonlik word sulke “heruitgawes” nadoods aangepak. Tans lewe ek nog. Al is dit net-net.’ – 9) deur die skrywer self en elke bydrae het ook ‘n voetnota wat die afgelope 20 jaar se gevolge en invloed op die oorspronklike avontuur opdateer. Van laasgenoemde is die hoogtepunt ongetwyfeld die naskrif op bladsy 128: ‘Bogenoemde is die enigste storie wat ek tot nou toe totaal uit my duim uitgesuig het.’

Daar is amusante vertellings; die gebruik van toiletpapierbaniere om ‘n kampplek aan te dui; muskiete wat dronk-dronk wegvlieg na ‘n ontmoeting met ‘n slapende, rumdeurweekte man, leunend op ‘n graaf, die verwysings na ‘n klein kamera as ‘n ‘kiekiekakkertjie’ (80) en na hondedrolle as ‘sponsdorings’ (137), die liefdevolle herinnering aan ‘n ouma wat toe inderdaad laat vir haar eie begrafnis was (‘…want die lykswa het verdwaal…’ – 94), benoude oomblikke toe ‘n aanklag van onwettige handel in wildtrofees volg op die besit van die verrotte maaltand van ‘n sebra voor ‘n ‘…verloopte Engelse kolonialis met ‘n halfmaanbrilletjie – hy kort net die wattekêppie, dan was ons êrens in ‘n Britse hof.’ (108), maar ook weemoed en nostalgie: ‘Die lewe het te swaar vir Bruce geword en hy het besluit om dit te beëindig.’ (54)

Die oorspronklike 2001-uitgawe is lankal uit druk en bykans onverkrygbaar; hierdie nuwe weergawe is die ideale geleentheid vir versamelaars om hulle versameling te voltooi en vir nuwe lesers om C. Johan Bakkes se groot hart en fyn insig op die mensdom te ontdek.

 

⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *