Anschen Conradie’s review of Vel by Emma Bekker on goodreads.com.
#Vel – Emma Bekker
#Protea
‘Elke verhaal gryp aan die verbeelde vas. Alles verbeeld klou aan wande van waarheid.’ (5)
Die skrywer se onbetwiste vernuf as digter word ingespan om van hierdie kortverhaalbundel ‘n skildery van woorde te maak. Die sestien verhale is in drie afdelings verdeel; elke verhaal het donker en/of erotiese ondertone, maar die verhale in die eerste deel moet so behoedsaam gelees word soos wat deur ‘n duwweltjieveld gestap word – met deurlopende bewustheid van ‘n vinnige steekpyn wat onvermydelik sal toeslaan. Daar is ‘n sybokhaar-verhaal geïntegreer met ‘Blanket of loss’; die hartverskeurende beskrywing van ‘n dooie likkewaan (‘Sy sterk vel het hom beskerm teen die vernedering van wielspore oor geblertste binnegoed, maar dit kon nie die lewe binnehou nie.’ – 28) en ‘n hoender wat ‘n engel geword het.
Die verhale in die tweede deel is ietwat ligter en een daarvan, ‘We freakkings’, is werklik skreeusnaaks. Daar is ook die multi-tekstuele verhale van ‘n simbiotiese verhouding tussen ‘n Russiese soldaat en ‘n Japanese gevangene; die geskenk van tyd, en die toekomstige beeld van somber boeremarkte.
As dele een en twee die vel van hierdie bundel is, is deel drie die hart daarvan. Elke verhaal, van die liefde tussen gestremdes en die vaal dogtertjie met die mooie voete, tot die rou afskeid van ‘n sterwende uit verskeie perspektiewe, skiet wortel in die leser se eie hart.
Die taal is deurentyd poëties pragtig: ‘Dis of stilte self ‘n klank is in die pastorie.’ (16) en ‘Haar ma het op eie inisiatief die lewe vaarwel geroep toe Antonia skaars vyf maande oud was.’ (105)
Humor is immer teenwoordig; soms subtiel; soms vermom as naïwiteit (‘vagina klink soos die naam van ‘n tannie in die kerkkoor. ek kan nou nie meer luister na hoe sy die onse vader sing nie.’ – 23); soms hardop-proes-snaaks : ‘…beskryf hom altyd as die man wat in die twilight zone van ‘n oop kasdeur leef, maar te bang is om uit te klim omdat hy bang is sy moeder… donder hom terug met ‘n besemstok.’ (41) en ‘Die eindproduk lyk soos die liefdeskind van die Rajah van Sawara en die Marquis de Sade se hooftooisels wat deur ‘n tangverlossing in die wêreld gekom het.’ (61)
Die bundel is genomineer vir die Jan Rabie-Rapport prys, 2022, en met reg so; dis ‘n aangrypende, onvergeetlike bundel deur ‘n ware woordkunstenaar.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
Protea Boekhuis