Boekresensie: Die towenaars van toeka: Nooit en vir ewig (4) deur Cressida Cowell

Anschen Conradie se boekresensie van Die towenaars van toeka: Nooit en vir ewig (4) deur Cressida Cowell, Kobus Geldenhuys (Vertaler).

#DieTowenaarsVanToeka #NooitEnVirEwig – Cressida Cowell
#ProteaBoekhuis

Vir eeue het die hekse vreedsaam saam met die towenaars in die Woeste Woud gewoon, maar toe kom die krygers met ‘n geheime wapen waarop toorkrag nie werk nie: yster. Wens is die dogter van die krygerkoningin, Sykorax. Sy beskik oor towerkrag wat wel op yster werk, maar dis in haar een oog vervat en is so kragtig dat sy ‘n oogklap moet dra sodat sy dit per ongeluk aktiveer nie. Tesame met Xar, die seun van die towenaarkoning, Benkanzo, en haar lyfwag, Piep, moet hulle die heksekoning oorwin en voorkom dat hekse die wêreld oorneem.

Die heksekoning het Xar se harige arige elfie, Soetsappig, as gyselaar. Xar word boonop belemmer deur ‘n heksevlek op sy hand. Die helde beskik oor die doepa om hekse vir ewig te oorwin, maar dit moet in die beker van tweede kanse aangemaak word – en die beker is die eiendom van Xar se ouer broer, Buiter, wat as slaaf in die myn van (on)geluk werk. Bygestaan deur die reus, Paptrap; die pratende raaf, Kaliburn, wat se vere voortdurend uitval, en die towersleutel en die towervurk, beide verlief op die towerlepel, moet hulle die gevreesde draakwurm in die myntonnels aandurf om Buiter te vind en dan vertrek na die meer van die verlorenes vir die finale geveg met die heksekoning.

Hierdie boek is die vierde in die reeks ‘The wizards of once’ deur die skrywer van die bekende ‘How to train your dragon’. Dis ‘n heerlike dik boek van ongeveer 400 bladsye, geïllustreer deur die skrywer self. Die teks is in wisselende fontgroottes gedruk, wat bydra tot afwisseling en leesplesier en volume aan die denkbeeldige klankbaan verskaf. Die Afrikaanse vertaling is meesterlik deur Kobus Geldenhuys gedoen; karaktername soos Hommeldrommel en Grilgrommer verseker dat die vertaalde teks die uniekheid van die oorspronklike behou.

Alhoewel die spanningslyn deurentyd behou word, is dit geensins skrikwekkend vir jonger lesers nie; reuse is byvoorbeeld so bedagsaam in gevegte dat hulle die hekse bloot ver genoeg weggooi dat hulle eers na die afloop van die geveg weer sal kan terugvlieg in plaas van om hulle bloedig te vertrap. Die reeks word aanbeveel vir lesers van agt jaar en ouer, maar volwasse aanhangers van Harry Potter sal net soveel vreugde daaruit put. Hierdie boek is weliswaar die slot van die reeks, maar kan alleenstaande ook gelees word; ‘n voorwoord verseker dat ‘n nuwe leser die nodiger agtergrondinligting verkry. Dit was egter nie goed genoeg vir my nie; ek het die boek so geniet dat ek beslis die voorafgaande drie ook gaan aankoop en verslind. Dis oorspronklik, amusant, spannend en vermaaklik – ‘n aanwins vir enige fantasie-liefhebber se rak.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
Protea Boekhuis

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *