Boekresensie van Die Bullebakke: Episode 6 op Goodreads deur Anchen Conradie.
Skakel na resensie: https://www.goodreads.com/review/show/5393621675
Skakel na Protea Boekwinkel: https://proteabooks.com/index.php/die-bullebakke-episode-6.html
Hierdie prettige reeks vir die jongspan, gemik op lesers, veral seuns, vanaf 7 jaar, lees soos ‘n strokiesfilm in vervolgverhaal-formaat, eerder as ‘n tradisionele boek. Daarom word die boeke soos episodes genommer – en hierdie is episode 6.
‘n Kort samevatting vir diegene onbekend met die verhaal tot dusver: Die Bullebakke is Menere Wolf, Bene (‘n tarantula), Piranha, Slang en Haai. In episode 5 was hulle die wêreld se enigste hoop teen die bose Dokter Rupert Marmelade en sy vernietigende wapen, die zoepzilla-straal. Aangesien hy homself egter op die maan bevind het, moes die Bullebakke noodgedwonge ‘n ruimtetog onderneem; die gevolge daarvan word breedvoerig in hierdie episode verklap, maar eindig op ‘n mespunt wat vervolg in episode 7. (En nee, ek gaan dit nie verklap nie !)
Die oorspronklike titel is ‘The bad guys – Episode 6; Aliens vs Bad Guys’ en die Afrikaanse vertaling is deur die ervare Kobus Geldenhuys. Soos wat die geval is met strokiesprente, grafiese romans en fotoverhale, is die teks grootliks beperk tot dialoog en geluide; die volblad-illustrasies vertel die grootste deel van die verhaal. Dis deurspek met ouderdomstoepaslike humor en aksie (vorige avonture sluit selfs botsings met zombies in) en word sterk aanbeveel vir trae jong lesers.
Die fliek ‘The bad guys’ (April 2022) is op hierdie reeks gebaseer.
⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek Protea Boekhuis