Protea Bologna Katalogus 2019
Protea Katalogus 2019

’N OORSIG OOR DIE AFGELOPE 25 JAAR

Nicol Stassen het Protea Boekhuis 25 jaar gelede in Oktober 1992 begin as ’n klein tweedehandse boekwinkeltjie in Hatfield, Pretoria. Ná dié nederige aanvang het die besigheid mettertyd gegroei tot 15 akademiese boekwinkels regoor Suid-Afrika. Protea Boekhuis is tans die tweede grootste akademiese boekhandelgroep in die land. Die Hatfield-tak het al verskeie toekennings as die beste akademiese boekwinkel in Suid-Afrika ontvang. ’n Hele paar takke spesialiseer ook in algemene, antikwariese en Afrikaanse boeke. Protea Boekhuis in Hatfield is tans die grootste Afrikaanse boekwinkel in die wêreld en die grootste akademiese boekwinkel in Suid-Afrika.

Teen 1998 het Protea Boekhuis begin om ook per geleentheid boeke te publiseer. Die uitgewery het mettertyd ’n besigheid in eie reg geword. Tans is Protea Boekhuis een van die drie grootste Afrikaanse uitgewers en boonop die grootste Afrikaanse uitgewer wat nie aan ’n mediagroep of groot organisasie behoort nie. Dit is ook een van die 15 grootste uitgewers van algemene boeke in Suid-Afrika. Protea Boekhuis hou ’n omvangryke internasionale uitgewersnetwerk in stand deur jaarliks die Frankfurtse Boekebeurs en die Bologna Kinderboekebeurs te besoek.

Met die verloop van jare het dié uitgewer se boeke verskeie pryse verower, onder andere die Hertzogprys, die mees prestigeryke boekprys in Suid-Afrika, wat drie keer aan Protea-publikasies toegeken is. In die laaste 15 jaar het Protea Boekhuis se vertalings byna elke vertaalprys in die land verower. In 2016 is Protea Boekhuis se duisendste boek, The Thirstland Trek, 1874–1881 (deur die stigter Nicol Stassen), gepubliseer.

Protea Boekhuis spesialiseer tans in die publikasie van Afrikaanse poësie en dramas, vertalings van die beste kinderboeke ter wêreld in Afrikaans, toonaangewende niefiksie en die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die eerste 25 jaar in dié uitgewer se geskiedenis het verbygevlieg. ’n Mens kan maar net bespiegel oor wat die volgende kwarteeu gaan inhou.