Besturende direkteur & Stigter – Dr. Nicol Stassen is die besturende direkteur van Protea Boekhuis. Hy doen al meer as ’n dekade lank navorsing oor die Dorslandtrek en die Angola-Boere. Hy het ’n BA-graad in Tale, ’n meestersgraad in Chemiese Ingenieurswese en ’n doktors-graad in Geskiedenis.

Hy is ook die skrywer van Afrikaners in Angola, 1928–1975 (2009), The Boers in Angola, 1928–1975 (2010), William Chapman – Reminiscences (2011) en Die Dorslandtrek 1874-1881 (2015).


Hanli Deysel

Uitlegkunstenaar & Voorbladontwerper – Hanli Deysel is sedert 2006 inhuisontwerper van Protea Boekhuis. Sy het grootgeword aan die Natalse noordkus en aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar sy grade verwerf het in Argitektuur, ‘n honneursgraad in Uitgewerswese, en ‘n meestersgraad in Inligtingontwerp.

Haar reisgierigheid laat haar inspirasie vind in allerlei plekke. Ná ‘n kort verblyf in Tanzanië verhuis sy na Rosendal in die Oos-Vrystaat. Tussendeur perskes inlê en beeste uit die tuin jaag, glo Hanli dat sy die beste werk in die wêreld het.


Danél Hanekom

Redakteur – Danél Hanekom is in Kaapstad gebore, het skoolgegaan op Somerset-Wes (Hottentots-Holland Hoërskool) en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy haar BA-graad en Nagraadse Diploma in Vertaling verwerf.

Na universiteit verhuis sy Pretoria toe waar sy in verskeie taalkantore werk as vertaler en redigeerder. In 2003 sluit sy by Clever Books, uitgewer van opvoedkundige boeke en deel van Macmillan SA, aan –  eers as kopieredigeerder, later as redakteur en projek-koördineerder. In Mei 2010 word sy as redakteur by Protea Boekhuis aangestel en is verantwoordelik vir Engelse en Afrikaanse publikasies.


Carmen Hansen-Kruger

Redakteur – Carmen Hansen-Kruger het Uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria gestudeer and haar graad in 2000 verwerf. In 2001 word sy as uitgewersassistent aangestel by Protea Boekhuis. In 2002 is sy Engeland toe waar sy drie jaar lank bly en, onder andere, vir ‘n Engelse kinderboekuitgewery werk tot 2005.

Met haar terugkeer word sy aangestel in die verskepingsdepartement van Jonathan Ball Publishers, en in 2007 as uitgewer van Wiskunde, Tegnologie en Shakespeare by Clever Books Macmillan SA. Sy is sedert 2010 terug by Protea as redakteur van Afrikaans en Engelse tekste, en behartig ook publikasies wat uit Duits vertaal is.


Shané van der Merwe

Redakteur – Shané van der Merwe is in Port Elizabeth gebore en het in Pretoria en die Strand grootgeword.

Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar sy die volgende grade behaal: BA (Taal &  Kultuur), BA (Hons) in Afrikaans & Nederlands en ’n MA in Afrikaanse letterkunde.

In 2009 ontvang sy ’n Huygensbeurs van Nuffic om vir ses maande as deel van haar MA-studie aan die Vrije Universiteit in Amsterdam te studeer; in 2012 word die Marius Jooste-medalje toegeken vir haar tesis getiteld Variante in die poësie van Ina Rousseau.

Sy was ‘n tyd lank assistent-inhoudsbestuurder by LitNet voor sy in 2010 by Protea Boekhuis aangestel is. As redakteur, vertaler en proefleser was sy die afgelope 13 jaar betrokke by die produksie van meer as 400 titels – die meeste daarvan Afrikaanse kinder- en jeugboeke.

                                                                                                                                                        Tans woon sy en haar man, Ruan, op Somerset-Wes. 

 


Joan-Mari Barendse

Redakteur – Joan-Mari Barendse is sedert Oktober 2017 deel van die Protea-span.

Sy verwerf ’n PhD in Afrikaans en Nederlands in Maart 2013. Haar proefskrif handel oor distopiese toekomsromans in Afrikaans ná 1999.

Van 2014 tot 2015 is sy ’n lektor in Afrikaanse letterkunde aan Unisa. In 2016 en 2017 doen sy nadoktorale navorsing oor die uitbeelding van insekte in hedendaagse Afrikaanse letterkunde. Joan-Mari woon in Stellenbosch saam met haar man en hulle hond, Sheila.


Reon Erasmus

Verkoopsverteenwoordiger – Reon Erasmus is in 1983 in Rustenburg gebore. Nadat hy gematrikuleer het, het hy hom in die gasvryheidsbedryf in ’n bemarkingsrol bevind. In 2004 het Reon na Northam verhuis om ’n mikrofinansierings-onderneming te bedryf.

Hy het hom eers as bestuurder by Bargain Books Centurion aangesluit, waarna hy die geleentheid aangegryp het om by Protea Boekhuis as bemarker te werk. Hier kan hy sy liefde vir Afrikaanse boeke, bemarking en reis uitleef.

Kort nadat hy vennoot geword het, het hy die besigheid gekoop. Vanweë sy belangstelling in bemarking en skryfwerk het hy in 2008 sy eie bemarkingsmaatskappy en klein gemeenskapskoerant begin. Maar ná jare op ’n klein dorpie het die stadsliggies gewink en verruil hy die platteland vir die jakarandas van Pretoria.


Chris Theron

Verkoopsverteenwoordiger – Ek is gebore op Carletonville en het daar grootgeword. Ek is baie gelukkig getroud met my höerskool-liefde en ons het ’n pragtige dogter. Ek het met die jare nog hier en daar rugby en krieket op klubvlak gespeel. In hierdie tydperk het ek ook saam met my broer ’n band begin, Oktober Hemel, waarin ek baskitaar speel en liedjieskrywer is. Ek het al my lewe lank ’n passie vir skryfkuns en musiek.